AWS Solutions Architect - Associate

Sertifisering wat Skrik vir Niks

Wat 'n verligting. Uiteindelik het ek my sertifisering onder die knieg en kan ek begin met ander werk, en verdere sertifisering.

Amazon Web Services maak nie ligte werk daarvan om gesertifiseer te word nie. Dit is swoeg en sweet en 'n gekners van tande. Ek oordryf dalk nou effens, maar daar steek waarheid in.
Ek dink die oorspronklike verwagting was dat ek dit binne 2 maande voltooi, vandat ek begin werk het by Acacia Cloud Solutions. April, Mei... Junie, Julie, einde Augustus. Dit is waar ons nou is. So ja, dit het ietwat langer geneem!

Maar dit was 'n rowwe tyd en ek het 'n paar keer gesukkel met brain fog of iets wat die beste beskryf kan word as vertigo, die BPPV variasie om meer spesifiek te wees (Benign paroxysmal positional vertigo). Om te probeer fokus is 'n grap en 'n mens kan net nie reguit dink nie. Probeer nou jouself indink om onder daardie kondisie te probeer om kennis op te bou.

Die Reis

Die hele katoetie was 'n reis, nie 'n kortafstand wedloop nie. Ek sal niemand aanraai om hierdie eksamen aan te durf sonder praktiese ondervinding van AWS se dienste nie. Die volume van materiaal waardeur 'n mens werk lê soos 'n berg voor jou. Die naweek voor die eksamen het ek die skedules in 'n sigblad (spreadsheet) gesit en die totale tyd insluitende toetse en 'n toets-eksamen was nét onder 24 uur.

ACloudGuru

Nou om daardie 24 uur in konteks te plaas: dit is 24 aanmekaar. Om deur die materiaal te werk op 'n pas wat jy notas vat, hersien en verstaan, vat dit meer as 'n week. Ek sou sê die materiaal in ACloudGuru se kursus is redelik deeglik. Die meeste van die goed wat ek gemis het, het ek opgetel soos ek hersien en herhaal het.

Na die tweede of derde keer deur die materiaal is dit veilig om oor te skakel na 1.5 of selfs 1.75 en 2x spoed om tyd te wen. Dit is iets wat ek gewoond geraak het nadat ek aanvanklik baie gesukkel het met vinniger terugspeel. Ek het altyd my bedenkinge gehad daaroor om vinnige terugspeel te gebruik, maar my deuntjie het verander en ek is bly dat ek my sieninge kan verander.

Dit was vir my 'n deurbraak toe ek begin notas vat. Hoewel dit 'n mens baie afslek, help dit baie as jy iets lees en dan daarop reageer, neerskryf of tik en dan aangaan. Dit is amper asof jy dubbeld of drie-dubbele-keer seker maak om iets in te neem.

Registrasie

Gelukkig het ek deur van die instruksies gegaan 'n dag voor die eksamen, want baie benoud moes ek toe sien dat ek nie die eksamen kan aflê op my betroubare Linux bedryfstelsel nie. Ek spandeer toe meer tyd as wat ek voor lus gehad het om alles op te stel in Windows en maak seker dat alles reg werk.

Reg, ek kan nou seker registreer... Om die eksamen te doen is daar 2 opsies, PSI Exams Online en Pearson Vue. Ek het nog nooit met PSI gewerk nie en my Oracle Certified Associate - Programmer 1 eksamen was deur 'n Pearson Vue kampus gedoen. Vir een of ander rede was daar nie opsies deur PSI nie, en omdat ek voorheen deur Pearson Vue is, het ek daardie roete gevat.

Alles het goed verloop tot ek die eerste keer my tydgleuf gekies het, my kredietkaart besonderhede ingetik het en toe in spanning wag dat die geld uit my bankrekening vloei. ... ... niks. Tot my telleurstelling verskyn 'n boodskap wat aandui dat die tydgleuf nie beskikbaar is nie. Okei... ek gaan terug en sien toe dat daar nou net tye in die volgende week was. Kies iets, vul weer die vorm in, "submit"... bam. Selfde storie.

Ek probeer weer, en hierdie keer is daar nou wel toe weer 'n tydgleug op die dag wat ek wou hê! Vul die vorm in, submit... Weer is die gleuf gevat.

Op die ou-end het dit my ses keer geneem voordat my tydgleuf geldig was! Ek wil nog met Pearson Vue in aanraking kom hieroor want dit is 'n horribale ondervinding as 'n gebruiker.

Eksamen Ondervinding

Die oggend van die eksamen het ek bietjie laat geslaap, opgestaan en koffie gemaak, asook 'n bakkie Oats! Dit was 'n hele ruk sedert ek tyd gehad het in die oggend om oats te eet, en dus wou ek bitter graag die dag vir myself so gerieflik as moontlik maak.

Ek is toe weer deur dele van die materiaal om te hersien en seker te maak oor dinge wat ek mag verwar. Dit het my tot 14:00 (SAST) geneem en ek "reboot" weer na Windows toe. Gelukkig gaan ek weer deur die toets om te sien dat al die sagteware reg werk.

Nee fok tog! Hier is Windows Update mos weer besig om te doen wat dit wil en die toesig- sagteware niks weet nie. Benoud raak ek, want Windows Update is mos bekend daarvoor om vir altyd besig te bly met opdatering. Gelukkig vind ek die taak in Task Manager en kry dit gedoot en my sagteware maak reg oop.

Inteken Prosedure

Hier is waar die proses baie goed verloop het en ek was beïndruk. Ek moes eers inteken en 'n "selfie" neem vir gesig-herkenning (facial recognition) en ook my paspoord of bestuurderlisensie. Dan moet daar ook 'n foto na die lessenaar, agter die lessenaar, links en regs van die lessenaar geneem word. Alles loop sonder pyn.

Ek word verbind met my toesighouer en hy vra dat ek met die webcam in verskye rigtings wys sodat hy kan seker maak dat daar niemand anders in die area is nie, asook my hande en polse om seker te maak ek het nie 'n smartwatch aan nie. Hy wens my sterkte toe en die eksamen kan begin!

Die Eksamen

Dit is so te sê 14:45, op tyd! (ek is só bly ek het vroeg ingeteken)

Die eksamen begin en ek begin 'n knop in my keel kry en my keel raak ook redelik droog. Dit pla my dat die vrae ietwat langer is, en die antwoorde baie nader aan mekaar is as tydens die oefen-eksamens...

Ek merk 'n ongemaklike aantal vrae met vlaggies om te hersien. Ek merk dat die eksamen 10 minuute korter is as wat ek gedink het. Ek lees die vrae oor en oor. Omtrent elke vraag het twee probleme wat gelyk opgelos moet word. Die antwoorde begin later almal reg lyk. In my gedagtes hoop ek net die die bure bokant my se kinders doen wat hulle nou doen tot 17:00, want andersins is hulle altyd baie luidrugtig en hardloop op hulle hakke en lawaai soos môre die heel dag!

Dit voel of die tyd versnel! Ek merk nog een of twee vrae met vlaggies. Dit tref my diep dat ek 'n punt bereik om handdoek in te gooi want ek is nie meer seker van myself nie. Vinnig probeer ek uitwerk dat ek min of meer 2:30 per vraag oor het. Daar was te veel tyd gemors aan die begin met oor en oor lees van lang vrae en kies tussen die lang antwoorde.

10 Minute bly oor. Ek byt vas... solank ek net deur al die vrae kan kom op hierdie stadium! Okei, okei! Ek probeer vinniger werk! Twee of drie vrae is eenvoudig en ek weet hulle kan nie verkeerd wees nie. Merk en volgende.

Teen 5 minute spring 'n venstertjie op om my te verwittig van die 5 minute wat oor is. Ja demmit! Gaan weg! Ek is besig om die vrae met vlaggies te hersien. Antwoord nie 1 of 2 wat oop gelos was. Daar is nog 2 vrae om te hersien, 2:30 bly oor en ek raak benoud. Maak 'n vlag-vraag oop. "Nee! Ek het nou net hierdie een gedoen" dink ek. Laaste minuut en ek weet ek kan nie die laaste vraag weer lees én op 'n vraag besluit nie. Wat moet gebeur moet maar gebeur.

Daar was nog net die vrae oor om aan te dui wat my ondervinding van die sisteem en prosedure is en ek vul dit in.

Kruis my vingers en eindig die eksamen...

Die bitter-soet uitslag

Ek wag 'n rukkie en my uitslag verskyn. Die resultaat is: PASS

Vir 'n kort oomblik is ek oorstelp van vreugde en so baie gedagtes skiet deur my kop. Dit slaan vas by my Pa en die feit dat ek nooit weer my prestasies en vreugde met hom kan deel nie. Trane sit vlak en ek voel 'n veer. Dit is rou emosies en moet uit. Dit het my 'n ruk geneem om alles te verwerk, maar ek vind weer my voete en reageer op die boodskap van my werkgewer en vier die oomblik met 'n video-oproep.

Vorentoe

Dit is vir nou agter die rug en ek kan fokus op dit wat voorlê. Daar is 'n hele lyn van eksamens om 'n loopbaan te bevorder en om op datum te bly met die tegnologie. Daar is nie nou rede om plat te gaan lê nie. Harde werk het nie agter die naaste bult gelê nie en daar was baie inspanning nodig.

Om momentum te behou is nou 'n goeie idee en dit sal help om gefokus te bly.

Wie weet, volgende is dalk net AWS Certified Developer - Associate :)


Tags: aws certification acacia


Copyright © 2024 Johan Mynhardt
Powered by Cryogen
Theme by KingMob